Suikerboschfontein-staptoer #3

Met 2013 se drama en druk het ek die afgelope ruk al meer begin smag na ‘n ondervinding wat vir my ‘n nuwe tydperk in my lewe kan inlei. So bespreek ek toe plek op een van my gunstelingroetes en nooi vier mense om saam te gaan.

Dit was tyd vir nuwe herinneringe. Ek het Suikerboschfontein al twee maal tevore gestap en Die Tyd het aangebreek: ek het aan stap-onttrekkingsimptome begin ly, maar wou ‘n bekende roete doen net om weer “in die ding in te kom”. Vriende wou ook hul eerste staptoer doen, en Suikerboschfontein is ‘n veilige-maar-nie-vervelige opsie.

Suikerboschfontein (SBF) #1 was lekker – ek het my eerste groot liefde daar ontmoet – maar 10 jaar later moet ek daardie herinneringe (en al die heartbreak tussenin) afskud.

SBF #2 was die laaste staproete wat ek saam met my pa gedoen het – daardie herinneringe sal vir ewig bly, maar ek wil die roete se “hidden memories” soort-van skoonvee – amper soos om ‘n geheuekaart te format nadat jy die foto’s veilig in op ‘n ander plek gestoor het.

So SBF #3 was vir my ‘n tipe nuwe begin. ‘n Skoon blaadjie. ‘n Vurk in die pad. Wat jy dit ook al wil noem, ek het dit saam met nuwe vriende aangepak, sonder enige ouers (ek was die oudste persoon daar) en sonder enige potensiële hangups. Dis mos hoe dit hoort. Ek het selfs nuwe stewels vir die geleentheid gekoop nadat my oues die vorige Desember die gees begin gee het – ja, ja, ek het darem so 3x om die blok gestap voor dié roete!

Vrydagmiddag halfdrie kruip teen ‘n slakkepas nader. Uiteindelik!
Ek jaag huis toe, gooi my rugsak, splinternuwe stewels, en getroue stapstok onseremonieel in die kattebak, en jaag om vir Bernhard op te laai.
Van daar af jaag ons deur die woonbuurte van die meer gegoede dele van Pretoria om vir Liezl op te laai. Halfvyf (spitsverkeer is altyd ‘n pyn) klim ons op die N4-Oos. Binne minute waai die musiek op ‘n gemaklike volume saam met die wind deur die oop vensters. Ons al drie is vrolik, en daar lê 2½ ure se lekker-ry voor ons. Saam met die wit strepe op die pad wat onderlangs verby flits, los ons al ons city worries agter.

Ná drie verkeerde afdraaie sak ons met stampe en stote bo-oor die tweespoorpad se vet middelmannetjie af na Rooikranskamp. Henri (Liezl se kêrel) en Alida A. (‘n vriendin; ek is Alida V.) het ‘n gesellige vuurtjie in die middel van die kuierarea gemaak, en sommer ook die donkie aangesteek!

Dis Henri-hulle se eerste, amptelike oornagstap en hulle is kinderlik opgewonde… Ná ‘n vinnige aandete van Cup-a-Snack en koffie vir my en Bernhard, en braaivleis en broodjies vir die ander drie, spring ons deur die stort en klim in die bed.

 

DAG 1: Rooikranskamp na Oom Japie se Huis (10,2km – ongeveer 5h)

Skuins voor halfnege is al die oortollige bagasie terug in die karre gepak. Ons ruik na sonbrandroom en Peaceful Sleep (om ongewenste meerpotiges weg te hou). Gespes word so hier en daar nog gestel, sakke word reggeskud, en dan val ons in die pad.

Die eerste stukkie van die dag se stap is amper ‘n tong-in-die-kies waarskuwing vir die moeiliker gedeeltes later die dag: vir die eerste kilometer loop ‘n mens oor en tussendeur massiewe rotsblokke, dan al met ‘n effens-klipperige paadjie langs, tot op die rand van ‘n 45m-hoë afgrond. “Gevaarlik! Dangerous!” keer ‘n waarskuwingsbordjie jou. Ons gee so ‘n paar versigtige treë nader. Skielik klink daar ‘n geblaf van hier skuins onder ons op – ‘n helse trop bobbejane laat spaander oor die kranse en rotslysies tot op ‘n veiliger afstand verder op in die kloof. Die manne koggel die kese eers ‘n bietjie.

Al geselsende stap ons verder, op die rand van die kranse langs, om die heiningpaal, versigtig oor die los klippe. Ek en Bernhard vertel van die vorige keer toe ons die roete gestap het: In 2006, saam met Queenswood Voortrekkers. Ons eie terme “blom” (vir sit en rus, rugsakke af) en “beleef” (vir staan en asem skep, bene rus) het daar onstaan.

By Mooikloofwaterval staan ons eers en “beleef”. Dan begin die sports. Ons sak in ‘n klofie af tot op die stroompie se vlak. Ek stap voor – steeds baie versigtig met hierdie nuwe stewels van my. Ons neem baie foto’s van mekaar – hangende aan die toue, boude in die lug by die leertjies af, vreemde gesigte vir oorhangspinnerakke – en van die tientalle klein watervalletjies en varings. Vet pret!

Anderkant uit (met moeite – sekeres van ons is maar sleg met opdraandes) stop ons vir ‘n “blom”-rus. Ons soek plat genoeg klippe vir ons agterstewes, en… jip, daar is die 5km-merk! Ons is halfpad vir die dag!

Vir ‘n entjie loop die voetpad al met die kontoere langs. Dan daal ons eers voor ons weer al met ‘n stroompie langs – by tye IN die stroompie – styg. In ‘n stadium moet ons met behulp van ‘n tou boontoe klouter. Sover is ek heel beïndruk met my skoene – my voete is nog heeltemal droog ten spyte van die stroompies, en ek het nog nie gegly nie.

Kort daarna is ons uit die kloof. Die klipperige voetpaadjie lei ons na die swemdam so paar honderd meter onderkant Oom Japie se Huis – die ander oornaghut op die roete. Ons betrag die troebel water vir ‘n paar oomblikke en besluit toe om maar liewer aan te stap.

Die hut is presies soos tien jaar gelede, behalwe dat die kleurvolle patrone op die buitemure nou met bruin oorgeverf is.
Ons gooi sakke neer, trek skoene uit en strek luilekker elke moontlike ledemaat en spier.
Ek hink eerste in die stort se rigting – yskoue water is net lekker as ‘n mens wárm gestap is. Terwyl ek klere uittrek en botteltjies uithaal, berei ek myself solank sielkundig voor vir die vriesende straaltjies wat my lyf binnekort gaan piets. Ek draai die krane oop, hou my asem op en spring onder die water in…
Verrassing! Die pyp stoot louwarm water uit!

Soos wat ‘n mens maar altyd ná ‘n dag se stap doen, ondersoek ek my lyf vir bloukolle, bittereinder-bosluise en ander moontlike letsels. Al wat ek vind, is rooi kolle op my voete waar my stewels my begin druk het…

Saam met die skemer wat stadig om die hoeke sluip en die koel aandluggie wat stilletjies by ons krae en broekspype inkruip, begin ons kos uitpak en gasstowe aansteek. Ons bou ‘n vuurtjie en speel Rummy by die lig van ‘n gaslamp.

Later staan ek op en gaan staan op die trappies aan die “voorkant” van die hut. Ek is in ‘n dink-bui. Hier het ek my heel eerste soen gekry, toe ek 15 was. Soos met my gunstelingkarakter, Saul Barnard, het die lewe sedertdien ook maar skewe sirkels met my geloop.

The more things change, the more they stay the same.

 

DAG 2: Oom Japie se Huis na Rooikranskamp (9,8 km – ongeveer 5h)

Alida A. roer eerste. Uit die hoek van my slaapsak sien ek vir Bernhard ook wakker word. Ons het al vyf sommer ‘n outydse kermisbed op die vloer gemaak.

‘n Halfuur en ‘n koppie koffie-met-Oumabeskuit later is ons reg vir die terugtog. Ons begin goed – die voetpaadjie is mooi en ons vorder vinnig, ten spyte van my veters wat aanhou losgaan. Dubbelknope kan ek nie maak nie, want die veters is te kort. Irritasie nommer een.
Die hemel, die gras, die klein blommetjies, die wind en die skoon lug verdryf egter gou enige kwellings oor veters. ‘n Mens voel maar kléin as ‘n mens op so ‘n roete net ‘n bietjie stop, boontoe kyk en in die oomblik lééf.

Die paadjie slenter-slinger weer met die kontoere langs. Skielik word dit meer klipperig en ons draai in ‘n skaduweekloof in – Geelhoutkloof. Bernhard loop voor. Oorhangrotse veroorsaak dat hy sy kop twee maal stamp, maar gelukkig nie weer nie. Ons skep asem by rotstekeninge en die sogenaamde Bobbejaanhotel voordat ons die kort steilte anderkant uit aandurf. Bo gekom maak ek eers weer veters vas. My stewels begin nou druk… Irritasie nommer twee…

Ons loop al met die platorand langs. ‘n Troppie beeste staan rustig en wei terwyl ons foto’s neem van die klowe, die rotse, die wolke, die blou-blou wyd bokant ons.

Ons sak af, deur ou murasies en suikerbosse. Sowat ‘n uur later is ons halfpad en ons “blom” weer onder ‘n groot witstinkhoutboom – dis duidelik ‘n baie gewilde afpakplek. Die paadjie volg ‘n stroompie tot waar dit ‘n ent verder links swenk en die stroompie kruis. Alida A. moet skoene uittrek om deur die water te kom. Die res van ons trap versigtig.

Van hier af is dit op, op, op tot by die karre, onthou ek…
Ek begin dus vooruit loop. By die Triomfwatempel van die Sterwende Son stop ek nie – ek is mos al twee maal hierdeur – en ek gebruik liewer die kans om nog ‘n bietjie verder voor te kom.

Die paadjie loop in nog ‘n kloof in, langs ‘n pragtige stroompie op. Ons klim met behulp van drie staallere deur ‘n nou skeur in die rotse. Die paadjie loop nog opdraand vir so ‘n paar honderd meter, steeds langs ‘n stroompie deur klamkoue bos, voordat dit bo-op ‘n rotsplaat uitkom. Ons hyg almal maar ‘n bietjie, maar talm nie te lank nie.
So 300m van die kamp af loop ons verby nog ‘n geboude swemplek, maar ons stop weer nie. Ééndag sal ek nog in albei gate kom swem!

Rooikranskamp se groen boog-sinkdakkies is ‘n welkome gesig. Ons strompel onder die afdak in, sak op die naaste plat oppervlaktes neer en trek veters los (dié wie s’n nie reeds los is nie).
Ek doen weer ‘n bosluis-en-bloukol-ondersoek. Niks, gelukkig.
Maar my enkels is rooi, my hakskene is rooi en die aansluiting van my voete by my bene is ook rooi. “Ag wat, dit gebeur mos maar altyd,” dink ek.

Nadat ons die laaste bietjie Game uit ons bottels gedrink het en die krummels uit die soutkoekiepakkies geskud het, is ons vort in ons aparte karre. Die hop-en-skud tweespoorpaadjie wat ons na die behoorlike grondpad neem, lyk selfs erger in helder daglig! Henri se Giulietta sukkel maar…
Ons stop almal by Alzu vir ‘n vinnige vir-oulaas-kuier-koffie en dan skei ons paadjies.

Terug by die huis, ná ‘n heerlike, diep skuimbad (en ‘n glas wyn), ondersoek ek my stapskoene. Die goed begin wraggies lostrek by die sole! My vorige paar het tién jaar gehou (waarin ek die volledige Outeniqua, Prospekteerders én Fanie Botha-roetes gestap het) en hierdie paar is skaars deur 20km…

Ek is egter te moeg om verder ontsteld te raak en ek klim in die bed, rooi hakskene, tone, bene en al.

City worries are tomorrow’s worries…

Advertisements