Eendag op ‘n reëndag

Vanoggend bied Wimpy ‘n gratis ontbyt aan tussen 7:00 en 8:00. Ek kom alleen daar aan en moet ‘n tafel deel met ‘n ou Engelse oom.
Ek sit skaars, toe hy my begin vertel dat hy 85 jaar oud is, met twee dogters, vyf kleinkinders en agt agterkleinkinders as sy nageslagte. Net een van sy kleinkinders bly oorsee, die res is almal in Suid-Afrika. Die om is in Kent in Engeland gebore, en het in 1957 na Zimbabwe getrek. In 1970 het hy noodgedwonge na ons sonskynland getrek omdat hy als verloor het as gevolg van Mugabe, sê hy. Sy besigheid, sy pensioen, sy mediese fonds…
Nou hou hy maar sy ore op die grond vir dae soos vandag, wanneer daar ‘n gratis ontbyt is, of pensioenaris-dae by Pick n Pay wanneer die oumense koffie en koek verniet kry.
Ons sit en gesels oor dit en dat – die weer, die wêreld, reis, werk, gesondheid… Op 85 gaan gym hy nog minstens eenkeer elke drie dae – gewigte optel is vir hom veral belangrik.

Hy praat land en sand. Ek dink hy raak nogal eensaam. Sy vrou, met hy 40 jaar getroud was, is al 16 jaar gelede oorlede. Die ou oom is bewerig en maer. Hy gooi verskriklik baie sout oor sy tjips, die tamatie, die twee sunny-side-up-eiers en selfs die dun repies spek. Bo-oor dit alles kom tamatiesous. Hy drink sy tee sonder suiker, met min melk.

Toe ek opstaan, betaal ek vir sy tee.

Ek het nooit sy naam gevra nie, hy weet nie wie ek is nie, maar op ‘n manier voel dit net reg.

Advertisements