Verkeer

Ek wens die verkeer was elke oggend dieselfde…

Nou die dag nog, toe ek kampus toe moes ry, het ek 7:00 in spitsverkeer gesit. Vanoggend ry ek dieselfde pad werk toe, en die verkeer is minimaal vir daardie tyd van die oggend. Wat het verander? wonder ek toe ek die oprit na die N4 vat en voet in die hoek sit.

Verandering… Dis ‘n woord wat gewoonlik vrees by mense inboesem…

As ek net dink aan die goed wat die afgelope jaar in my lewe verander het, voel dit of ek ‘n hele paar kilo’s by my spreekwoordelike lewensreis kan voeg.

In September 2010 trek ek onder my ouers se voete uit, na ‘n woonstel wat aan my ou skoolvriendin se ma behoort. Die hele Desember werk ek 5 uit die 7 dae by ‘n crummy dieretuintjie. Ek betaal self die huur, mediese fonds, en alle ander onkostes wat ‘n jonge dame moontlik kan hê, en ek sukkel alleen deur die eerste vyf maande van 2011 op ‘n bitter klein begroting. Twee-minute-noedels, Cup-a-Snack en Pro-Nutro is regtig my dieët. Wel, afgesien van die pakkies vriesgroente en Smash tussenin.

Ek gaan stap in Januarie saam met twee vriende – daar gaan my Desember-dieretuingeld. Dis net ons drie vir vyf dae in die bos en ek leer hulle ken. Dis die wonderlikste week in ‘n lang tyd. Op pad terug nooi Vriend A my na sy selgroep, terwyl hy goed weet hoe ek oor sy God voel. Teen my beterwete sluit ek een Maandagaand by hulle aan. Dis die begin van groot dinge…

In die oggende werk ek by Alto Modes – ‘n boutique vir ou tannies wat hou van pakkies. Ek pak klere op die rakke, sorteer ou lêers uit, en plak stiekers op leibels. In die middae is ek au pair vir ‘n graad twee-seuntjie met ‘n haasbekkie. Saans surf ek die internet op soek na enige werk in die media-bedryf. Later net na enige werk. Vir maande gaan dit so aan. Ek verjaar, en ek en ‘n ander vriend hou ‘n gesamentlike partytjie. Dis ‘n legendariese aand.

Teen April het ek nog net twee onderhoude gehad en ek is goed gatvol vir die grootmenslewe. Almal probeer help met kontakte hier en kennisse daar, maar dit help net mooi niks as daar nie ‘n werk is nie. Ek verval in semi-depressie: ek kan nog lag en ‘n snaakse DVD geniet, maar ek slaap baie, voel oor die algemeen negatief en begin wonder hoe dit voel om selfmoordgedagtes ernstig op te neem.

Sel gaan voort soos altyd en ek begin wonder hoekom mense glo. Niks werk dan vir my uit nie. Ek gaan saam na ‘n charismatiese kerk en die een meisie bid saam met my vir ‘n werk naby aan die huis, naby my vriende en familie. Ek wonder oor die krag van gebed.

Ek wonder te veel oor alles en ervaar te min.

In Mei staan ek vir ‘n week in as graad twee-juffrou by Orchards Primary – ‘n redelik nuwe skool met die oorgrote meerderheid swart kinders – en ek besef hoe bevoorreg ek eintlik is. Daarna is ek vir ‘n week by Cullinan Gekombineerde Skool. Ek slaap een aand in die onderwyserskommune (om petrol te bespaar) en ons laat val perongeluk ‘n loodswaar dubbelbedbasis op my toon. Dit pyn vir ‘n paar uur en toe’s dit beter. Al wat oorbly, is ‘n blou merk onder my nael. Op die harde manier leer ek in daardie twee weke dat skoolhou nie kinderspeletjies is nie en dat pyn tog vervaag.

Op ‘n Vrydagaand in die laaste week van Mei bel ‘n goeie vriend my: “Ek het ‘n promo job vir jou, hier’s die nommer.” Ek bel. ‘n Paar uur later staan ek met ‘n “Stuur Groete aan Mannetjies Roux”-logo op my rug, by die ingang na teater. Nog later praat ek met die bestuurder. “Ons het ‘n pos oop, stel jy belang?” vra sy. Daardie Saterdagaand het ek ‘n vaste werk, ek begin oor ‘n week.

Die charismatiese kerk se meisie se gebed is verhoor.

By die werk word ek aan die diepkant ingegooi en ek leer vinnig om te swem. My kollegas en ek ken mekaar nie en ons loop maar versigtige draaie om mekaar se persoonlike spasie. Ons leer mekaar en die kroegpersoneel ken en maak vriende met die bestuurders. ‘n Week later breek ek my eie goue reël (ken iemand lank voor jy met hom uitgaan) en die Engelse knaap onder hulle word my kêrel. Ons is relatief gelukkig  met mekaar (al voel dit soms of ek wil weghardloop as hy te ver vooruit begin dink).

Intussen gaan my pa van bad na worse , wat sy algemene omstandighede betref. ‘n Jaar gelede het ek nie gedink dis moontlik dat hy só agteruit kan gaan nie. Nou weet ek nie waar hy is nie en sy selfoon is weg – al wat my nou te doen staan, is om in my kar te klim en hom letterlik te gaan soek.

Dit voel nie meer of ek my kar teen ‘n boom wil vasry nie.

Ek glo nou aan (en in) ‘n God wat wonderwerke doen en gebede verhoor. Ek wonder net soms nog steeds oor die genade waarvan almal praat.

In Julie groet ek ‘n dierbare mede-skrywer. My vriendin SMS my een oggend: “Cobus word vermis. Anandi (sy meisie) sal ons op hoogte hou.” Dis 8 Julie 2011. ‘n Paar dae later basuin ‘n Beeld-plakkaat die nuus uit: “Tukkie verdrink by Margate.” Tyd stop vir ons.
Cobus, my vriend, ek weet jy’t internet daar bo en ek weet jy lees my blog – dankie dat jy ‘n ogie oor ons hier onder hou.

“Drie Reisigers” inspireer my om my droomreise te begin beplan. Regtig beplan, nie net dagdrome daaroor droom nie. Botswana, Kenia, Tanzanië, Mosambiek, Lesotho. Hel, selfs net die plekke in Suid-Afrika waar ek nog nie was nie. Vrede, Geluk, Disappointment, Upington, Wildekus, Weskus, Jacobsbaai, Victoriabaai, Saldanhabaai, Langebaan…

Ek hoor my oupa het hartprobleme en is in die beginstadium van Alzheimer’s.

My ma het haar huis verkoop (die een waaruit ek getrek het) en huur nou ‘n huis “daar naby die 224.” My kleinboet begin om sy droom na te volg – hy neem dramaklasse by ‘n persoon wie se nommer hy by Vinette Ebrahim (Charmaine in 7de Laan) gekry het.
‘n Sussie wat met bekendes werk, het voordele.
Ander kleinboet is ook besig om sy droom te verwesenlik – vliegopleiding en flight attendant training neem byna al sy tyd in beslag.

Marco Botha (sportverslaggewer by Die Burger in Kaapstad) laat my probeer om beter Afrikaans te praat (en te skryf). Ek koop ‘n notaboek wat ek in my kar hou, stop deesdae gereeld langs die pad om ‘n blitsgedagte neer te pen.

En Dana Snyman se woorde aan my op my 21ste verjaarsdag: “Skryf, skryf, skryf…” bly in my kop draai.

Advertisements