Want my huis is waar my hart is…

… en my hart is my huis.

Aangename kennis.
Ek is nie meer ‘n tiener of ‘n student nie, ek is (dankie, Vader) nie meer werkloos nie en ek is ook nie single nie (alhoewel ek soms wens dat ek was). Geheim nommer een en ek is skaars aan die gang. Genugtig.

Ek wil reis, ek wil skryf, ek wil met vensters oop ry en nie bang wees nie, ek wil in my eie plek bly en ek wil naby die see wees – naby genoeg dat ek dit kan ruik, dat ek dit kan hoor as die wind reg waai, en dat ek dit kan sien.

Ek dink ‘n mens se huis sê baie van wie en hoe jy in werklikheid is. Kyk maar – kreatiewe malles se huise lyk soos ‘n kleuterskoolklaskamer ná ‘n lang dag en rekenmeesters, prokureurs en bankmense se wonings is pynlik netjies, klinies skoon, en alles in natuurlike kleure.

Ek reken dis daarom gepas dat ek sommer van dag een af vertel hoe my huis eendag moet lyk.

Blokkiesvloere of houtvloere en terracota-teëls in die badkamer(s). Houtvensterrame. Groot vensters. Geen van daai vieslike skerp wit ligte nie en geen neon-buisligte in die kombuis nie. Groen dak, off-white mure en ‘n swembad. Ek wil kleurvolle, normale skilderye teen my mure hê, tussen geraamde vergrotings van my eie foto’s. CD’s, foto’s en boeke op die rakke. Reisboeke, baie reisboeke en padkaarte. Geskiedenisboeke ook.

Ek wil my klavier in my sitkamer hê, só gedraai dat ek by die venster kan uitkyk terwyl ek speel. My pa se groot prent van Beethoven moet bo die klavier hang en my bladmusiek moet versprei oor die bokant lê. Die pedale hoef nie te blink nie en daar kan maar ‘n bietjie stoffies op die pote en aan die kant wees.

Ek wil gemaklike, pofferige banke hê met van my ma se kussings op, en een van daai leunstoele waarin ‘n mens in die winter kan opkrul met ‘n boek, ‘n warmwatersak en Milo, in ‘n sonkolletjie by die venster.

In die kombuis gaan daar altyd koffie, tee en suiker by die ketel staan, reg vir enigiemand wat kom kuier. Ek wil altyd koekies of beskuit hê, en nie die volgraan-gesondheidsoort nie. My spenskas gaan ou koerantpapier op elke rak hê, en iewers agter al die pakkies sop en sous gaan ‘n blikkie kondensmelk of caramel treat staan.

Die spaarkamer gaan ‘n massiewe boekrak hê waarop ek Dalene Matthee, Herman Charles Bosman, Charles van Onselen, Olive Schreiner, John Grisham, Dana Snyman en Johan Bakkes saam sal laat kuier. In die kas aan die regterkant gaan my stapgoed wees: my stapstok wat my pa vir my by die kaa-kaa-en-kaa in 2001 gekoop het,  my groen Deuter-rugsak met die fake blommetjie, my rooi kamaste in my Jim Green-stewels met hul groen veters, die boks met my slaapsak en noodhulpsakkie (wat eintlik ‘n klein grimeringsakkie is) en flits en batterye en al die botteltjies vir die sjampoe, die seep, die Sunlight-skottelgoedseep en die sonbrandroom.

My kamer gaan ‘n massiewe dubbelbed hê met groen-blou-beige-en-bruin beddegoed en groot kussings en ‘n fleece kombersie waarop my kat kan slaap. Die kamer gaan groot skuifdeure hê en baie sonlig en ‘n vollengte spieël.

Buite in die oprit gaan ‘n VW hatchback van een-of-ander aard staan, en in die motorhuis ‘n Land Rover Defender – sónder daardie fênsie mags en massiewe spot lights op die dak.
Twee Jack Russells gaan jou verwelkom by die hek en as jy instap, gaan die kat op die bank jou ‘n “what’s up, dude”-kyk gee.

My huis gaan wees soos wat ék dit wil hê. Nie soos wat Wetherleys se katalogus my voorskryf of soos wat my ma se huis gelyk het nie.

My huis gaan die plek wees waar ek net doodgewoon Ek kan wees. Myself, sonder enige voorgee of fieterjasies.

Hoe lyk jou huis?

Advertisements